SAM

Saturday, August 23, 2014

Theuns Jordaan

Biografie

Meer oor Theuns Jordaan


Theuns Jordaan is op 10 Januarie 1971 gebore en het op ‘n plaas naby Venterstad, 30km van Bethulie, grootgeword. In sy matriekjaar aan die Hoër Volkskool Graaff-Reinet het hy sy liefde vir rugby met ‘n kitaar begin deel. Ná skool is hy weermag toe, daarna na die Universiteit van Stellenbosch waar hy ‘n B.Ekon.-graad verwerf het.


Dit was ook op Stellenbosch waar Theuns al meer begin sing het. Op 21 Oktober 1992 het hy vir die eerste keer voor ‘n gehoor in die kuierplek The Terrace opgetree met ‘n paar rand en ‘n pizza as enigste betaling.


Met sy graad in die hand verruil Theuns in 1998 Stellenbosch vir Pretoria en by die KKNK van 2000 word sy debuutalbum, Vreemde Stad, vrygestel. Vreemde Stad word een van die suksesvolste debuut-albums nog ooit in Afrikaans met verkope wat reeds verby die 210 000-merk is.


Die langverwagte tweede album, Tjailatyd, word by Aardklop in 2002 bekendgestel en ook hierdie album se verkope is reeds by bykans 220 000.



Die kitaarspeler Anton L’Amour begin gereeld saam met Theuns optree, ‘n samewerking wat vandag nog deel is van Theuns se loopbaan.

In November 2005 word Seisoen vrygestel en hierdie keer is L’Amour in die regisseurstoel. Seisoen sorg ook vir rekordverkope met meer as 115 000 CD’s wat verkoop is. Theuns het dus met slegs drie albums verkope van meer as 500 000 behaal.


In 2007 besluit Theuns om sy sewe jaar as professionele sanger op een album saam te vat. Grootste Treffers word in Maart vrygestel en verkoop byna 85 000 tot op datum.


Op 28 Maart 2008 word Theuns en Juanita du Plessis se Bring Jou Hart op DVD vrygestel. Dis ‘n reuse sukses en daar word ook ‘n CD vrygestel. Die DVD se verkope was 105 000 en die CD ‘n ongelooflike 120 000.


Theuns was nog altyd ‘n groot aanhanger van die musiek van Koos du Plessis en in April 2009 word Koue Vuur vrygestel. Dit behaal binne twee maande platinumstatus en die verkope staan tans op meer as 100 000.


2012 is ‘n groot jaar vir Theuns. Nie net stel hy sy vyfde solo-CD, Roeper, vry nie, maar hy en Juanita werk weer saam op Hart Vol Drome.


Roeper is een van 2012 se grootste verkopers en boer lank op die topverkoper-lyste van platewinkels en programme soos RSG se Top 20 en DKNK. Die album se verkope was in Maart 2013 reeds by bykans 115 000, maar die handvol Ghoema-toekennings wat die album in April 2013 gewen het – onder meer vir album van die jaar - het beteken dat dit later die maand wéér op RSG se Top 20 was.


Theuns is met sy diep rasperstem nie net ‘n uitstekende sanger nie, hy het ook deur die jare sy staal as liedjieskrywer gewys. Verskeie groot treffers – Soos Bloed, Jou Asem, Roeper van My Hart en Net Voor die Storm Kom om net ‘n paar te noem – is uit sy pen en daar is beslis nog ‘n paar wat wag om geskryf te word.

http://www.theunsjordaan.co.za/

No comments:

Post a Comment